


ATKV-Boeke-crawl - 17h00
Die ATKV-Boeke-crawl is ʼn lekkerte vir elke feesganger wat hom verwonder oor die Afrikaanse taal hetsy in woord of liriek.
Feesgangers kry ʼn doppie-koppie met ʼn knertsie Van Loveren muskadel en ʼn serp om die ergste koue van die mistieke dorpie, Kaapsehoop, te besweer. Daar is drie aandoenplekke waar daar rondom boeke, woorde en wysies gekuier gaan word.
Die eerste stop is by Bohemian Groove Café, waar ’n besondere samekoms van woord en musiek op die gehoor wag. Die geliefde en bekroonde aktrise Sandra Prinsloo gaan ’n keur van gedigte en lirieke uit die oeuvre van liedjieskrywer en sanger Jak de Priester voorlees. Tussenin sal Jak de Priester self die gehoor trakteer met sy vertellings – stories oor die ontstaan van sy liedjies, herinneringe uit sy lewe en die inspirasie agter sy woorde. Hy gaan ook ’n paar van sy geliefde liedjies sing, wat die aand ’n intieme en emosionele atmosfeer gaan gee.
Die tweede aandoenplek is die Silver Mist Funksiesaal waar Gerda Taljaard hier in die pragtige omgewing van wildeperde, historiese geboue, kranse en misnewels, gaan voorlees uit haar jongste roman Die grafdigter. Kom luister na die verhaal van Mila, van takbokke in sneeubedekte landskappe en van sprokies wat afspeel in donker woude. Tussendeur gaan daar lieflike Russiese musiek gespeel word deur Ultracoustic Duo, Dirkie van Staden en Wilken Calitz. Word meegevoer en bekoor deur die lieflike kombinasie van woordkuns en musiek, waar die grense tussen werklikheid en fiksie vervaag ...
Die aand word op ’n besondere manier afgesluit in die kapel by Silver Mist Country Inn waar Danie du Toit (Reënwolf) uit sy nuwe kortverhaalbundel Sestien Sketse, gaan voorlees. Die gehoor kan uitsien na ’n mengsel van boeiende stories, persoonlike vertellings en ’n paar van sy geliefde liedjies wat hy op ’n meer intieme manier gaan vertolk.
Die ATKV-Boeke-crawl beloof ’n besondere ervaring te wees — ’n kombinasie van musiek, literatuur en atmosfeer waar woorde en klanke saamvloei om ’n onvergeetlike aand te skep.
Hongerpyne word afgeweer deur ligte verversings by die aandoenplekke. Bring ’n warm jas, mus, kombers. Kaapsehoop is koud! Laataand keer die busse weer terug na Mbombela.
Prys: R350.00
